A man who ignored a red traffic light claimed the life of a resident of Villieria. He was charged with culpable homicide and negligent driving. There are many complaints regarding motorists who drive recklessly in Frates Road.
Caption: EENSAME KRUIS. ’n Inwoner stap verby die kruis op die hoek van Ben Swartstraat en Fratesweg waar Trudie van Allerman op 27 Februarie verongeluk het.
Gerhard Pretorius
’n Motorongeluk het onlangs die lewe van ’n 47-jarige vrou op die hoek van Ben Swartstraat en Fratesweg in Villieria geëis. In die vroeë oggendure van 26 Februarie het ’n man hier oor ’n rooi verkeerslig gejaag en Trudi van Allerman (47) se Opel Corsa getref. Die man het Trudi se voertuig so hard getref dat haar motor ’n palmboom, wat op die middelmannetjie gestaan het, heeltemal uit die grond geruk het. Volgens inspekteur Duane Lightfoot, die Moot-polisiewoordvoerder, het die man ’n rooi lig oorgesteek toe hy die Corsa getref het. “Trudi is op die toneel dood. “Daar is twee sake, strafbare manslag en roekelose en nalatige bestuur teen die man geopen,” sê insp Lightfoot. Daar is baie klagtes van die gemeenskap oor roekelose motorbestuurders in dié gebied. Volgens ’n inwoner jaag bestuurders ongelooflik vinnig in Fratesweg. Sy bly in Fratesweg en sy en haar man was op die ongelukstoneel. Hulle het aan Rekord gewys waar Trudi se motor te lande gekom het en waar haar liggaam ongeveer 23m verder gekry is. “Die gejaag in Fratesweg is so erg dat ek klankdigte ruite in my slaapkamer laat insit het. “Hulle jaag soos maniakke, dit lyk kompleet asof hulle vlieg. “Party weke is dit so erg dat daar tussen twee en drie ongelukke per week hier plaasvind. “Ons het al meer as een sterfgeval op hierdie hoek gesien, dit is werklik lewensgevaarlik en iets sal daaraan gedoen moet word,” sê ’n inwoner. Volgens raadslid Hendrik Fourie doen hy ’n beroep op alle inwoners om meer verantwoordelik te wees en alle verkeersreëls en padtekens na te kom. “Daar moet altyd na die oorsaak van die ongeluk gekyk word en dit moet ook in ag geneem word.” ’n Verkeersimpakstudie het bevind dat ’n robot by 26e Laan onnodig is. “Die ongelukke is ’n groot bekommernis veral omdat daar al baie mense op die pad dood is,” sê rdl Fourie.
|