Die bestuur van die Standard Bank Jacaranda Nasionale Kunstefees het ag geslaan op klagtes van drie inwonersverenigings en verlede week aangekondig dat die fees van Groenkloof na die noorde van Pretoria gaan skuif. Die besluit lok gemengde reaksies uit maar die feesbestuur is positief dat die nuwe terrein meer voordele bied. “Die nuwe perseel kan meer mense hanteer en al die topkunstenaars gaan steeds kom optree,” sê Johan Kotze, feesbestuurder. Die Groenkloof-inwonersvereniging, Muckleneuk en Lukasrand Property Owners Assosiation en Brooklyn Eastern Areas Citizen’s Association wou na talle besprekings steeds nie hul steun aan die fees se ligging verleen nie. Die feesbestuur het gevolglik verlede week besluit om nie meer die Harlequins- en Pretoria-sportunie se sportterrein in Groenkloof te gebruik nie, alhoewel die fees se geldelike bydrae dié sportunies se voortbestaan sou verseker. Die fees gaan voorts in noordelike Pretoria, agter die Zambesi Mall-sentrum op die Zambesirylaanverlenging, gehou word en vind steeds van 26 April tot 2 Mei plaas. “Die datums en plekke van die inhuisproduksies bly dieselfde. Slegs die hoofterrein skuif nou na die noorde,” sê die feesbestuur. Die nuwe terrein beslaan meer as vyftigduisend vierkante meter en het veilige parkering vir tienduisend motors. Chris le Grange, bestuurder van die Pretoria-sportunie, is teleurgesteld dat die fees geskuif gaan word maar aanvaar die inwonersverenigings en feesbestuur se besluit. Zeno Apolostolides, woordvoerder van die betrokke inwonersverenigings en voorsitter van die Groenkloof inwonersvereniging, sê hulle was nooit teen die fees gekant nie, net teen die ligging daarvan. Daar is besluit dat die feesbestuur steeds die rugbyklubs gaan ondersteun en hulle die geleentheid bied om by die fees ’n stalletjie te hê om geld in te samel.
|