Nadat die Nashua Titans die plaaslike kriekettoneel die afgelope twee seisoene oorheers het, gaan hul trofeekas hierdie winter vir die eerste keer in ’n lang tyd leegstaan. Die Titans het Vrydagaand in Centurion hul laaste kans om hierdie seisoen ’n trofee te wen op baie teleurstellende wyse verbeur, toe hulle in die tweede halfeindstryd van die Standard Bank Pro20-reeks met tien lopies teen die Highveld Lions verloor het. Na die Highveld Lions eerste gekolf het en in hul beurt ’n baie goeie 186 lopies aangeteken het, het die Titans se aanvangskolwers onmiddellik gewys dat hulle van plan is om maalvleis van dié teiken te maak. Blake Snijman (54 van dertig balle) en Gulam Bodi (26 van 22 balle) was gerieflik voor die verwagte lopietempo, toe Snijman sy paaltjie onnodig verloor het, na hy gestonk is deur die Lions se Thami Tsolekile. Hierna kon die Titans se kolwers net nooit weer ordentlik aan die gang kom nie, terwyl die paaltjies ook met reëlmaat geval het. Teen die einde van die beurt het dit byna gelyk of Dale Steyn (22 van twaalf balle) en Farhaan Behardien (18 van elf balle) die wedstryd sou red maar dit was blykbaar te veel gevra. Daar sal na dese ook vrae gevra word oor die Titans se bestuurspan se besluit om manne soos Pierre Joubert, Faf du Plessis en Rudolph van der Merwe weg te laat ten gunste van hoë profiel boulers. Uiteindelik was dit ’n gebrekkige kolflys wat hulle die wedstryd gekos het.
|