tuis blad home page
Polisie en Centurion weer in Assupol Super 16 halfeind
 
Koos Venter
 
Net soos verlede jaar het Pretoria Polisie en Centurion weer gemaklik gekwalifiseer vir vanjaar se Assupol Super 16-rugbyreeks vir oopklubs.
Albei dié klubs se eerstespanne het die ligafase van die toernooi onoorwonne afgesluit en hulle speel dus aanstaande naweek in die halfeindrondte.
Al die halfeindrondtes in die Super 16-reeks sal eerskomende Saterdag op die velde van Centurion-rugbyklub afgehandel word.
• Polisie en Centurion se prestasie strek selfs verder. Albei klubs se vier spanne (eerstes, tweedes, derdes en onder 21s is onoorwonne in die ligafase en dring deur na die halfeindrondtes.
Polisie se vier spanne het die afgelope naweek met die Kempton Wolwe afgereken, terwyl Centurion se teenstanders Ferro’s van Witbank was.
• Naka Bulle het ongelukkig die afgelope naweek weer gemengde sukses behaal. Hul eerstes en o.21s het verloor maar hul tweedes en derdes het die sterk spanne van Springs geklop.
• Die Silver Valke se eerstespan het in die laaste rondte gelykop gespeel teen Noordelikes. Hul tweedes, derdes en o.21s het ongelukkig almal teen dié klub van Limpopo verloor.
• Daar word intussen ’n rugbyfees beplan vir 12 en 13 Maart, wat ook ’n besoek van die Champions Tour aan Centurion-rugbyklub en Loftus Versfeld insluit.
Rugbyondersteuners kan die Springbokke, die Sewes Springbokke en die Bulls (Super 14) se trofees as deel van SA Rugby se Kampioene Toer besigtig by Centurion-rugbyklub op 12 Maart vanaf 14:00 tot 19:00.
Saterdag sal die toer by Loftus Versfeld aandoen en die trofees kan tussen 14:00 en 17:00 op Loftus se B en C-velde bewonder word.
Back