tuis blad home page
Sportrubriek: Smit moes einde 2009 uitgetree het
 
Koos Venter
 
John Smit doen sy eie beeld as Springboklegende skade.

Dis nogal ironies, maar baie sportmanne is soms self verantwoordelik vir die grootste onreg wat hulle as sporthelde aangedoen word.
As ons die wêreld se sportgeskiedenis bestudeer blyk dit dat groot sportsterre wat òf te laat uittree òf om verkeerde redes ’n terugkeer (‘comeback’) maak, gewoonlik baie meer skade doen aan hul eie beeld as wat hulle enige voordeel uit so ’n stap sou kry.
In die verlede het ons gevalle gekry van sportsterre wat eenvoudig net te lank aangehou het, omdat hulle hulself waarskynlik nie ’n lewe buite die bekende wêreld van hul sportdeelname kon voorstel nie. Eers wanneer hulle die vernedering moes deurgaan van ’n jong opkomende held wat hulle die pad na die paviljoen wys, het dié sportmanne dan – hopeloos té laat – uitgetree. Ek kan aan ’n hele paar sulke manne in Suid-Afrikaanse sportkonteks dink, maar sal hul name verswyg ter wille van hul eie eer.
Dan was daar natuurlik, veral die afgelope dekade of wat met die enorme hoeveelheid geld wat in sport beskikbaar geraak het, diegene vir wie die ‘comeback’ juis gegaan het oor dié euwel van alle euwels. Dink maar veral aan al die boksers wat hier rondom 40 skielik weer lus word vir nog ’n bietjie pakslae in die kryt. Maar as hulle voorheen ’n goeie naam gehad het of ’n kampioen was, kla hulle gewoonlik nie, want die geld is nie sleg nie.
Maar hoe nou gemaak as ’n man reeds miljoene in die bank het en dan vir oulaas ’n paar rande of dollars of ponde wil laat inrol? Kyk maar na hoeveel krieketspelers die afgelope twee jaar skielik nuwe wip in hul stap gekry het, nadat die grootbase van die Indiese Premierliga (IPL) die dollars begin rondgooi het. Baie van hulle was al lankal klaar met krieket maar hulle het vinnig die kolwe gaan afstof toe hulle die bedrae op die kontrakte sien.
Ander ‘comeback-kids’, soos Michael Schumacher en Lance Armstrong, behoort nie eintlik broodgebrek te ly nie. Inteendeel. Nou wat op aarde het hulle dan besiel om terug te keer na die sport wat hulle so beroemd gemaak het (Formule-1 en Fietsry, onderskeidelik) net om die een ondergemiddelde prestasie na die ander te lewer? Die probleem is dat manne soos hierdie nou die gevaar loop om onhou te word as ’n mislukking toe hulle as ‘has beens’ probeer terugkeer het, eerder as wat hulle onthou word as die beste van die beste wat hul onderskeie sportsoorte ooit opgelewer het.
Dit bring my by die betreurenswaardige verhaal van die huidige Springbokkaptein, John Smit. Daar kan geen twyfel wees nie dat hy in baie opsigte een van die heel groot legendes van Suid-Afrikaanse rugby geword het nie. Hy het immers ’n rits nasionale én internasionale rekords agter sy naam. Hy is by verre die mees ervare Springbokkaptein van alle tye en as haker sal sy rekord nie maklik ingehaal word nie. Hy hou ook die wêreldrekord as die man wat sy land die meeste keer ooit aangevoer het.
Smit speel Saterdag teen die Aussies in sy 71ste toets as haker. As hy nie beseer word of uit die span gelaat word nie, sal hy op 21 Augustus in die Nasionale Stadion (Soccer City) voor sowat 90 000 mense die tweede Springbok in die geskiedenis word om in 100 toetse te speel. Hy hou ook die rekord vir die meeste agtereenvolgende toetse gespeel, naamlik 46. Dan is hy nog veelsydig ook, want 13 van sy toetse het hy op stut gesak.
John Smit het sy naam reeds as jong speler gemaak toe hy Suid-Afrika se onder 21 span in 1998 na glorie in die onder 21 wêreldkampioenskappe gelei het. Sy afrigter in daardie toernooi was Jake White. Smit sou egter later onder Nick Mallet se afrigting sy Springbokkleure verwerf. Hy het ook onder Harry Viljoen en Rudolph Straeuli vir die Bokke gespeel, voordat hy die permanente kaptein onder Jake White se afrigting geword het in Junie 2004. Onder Straeuli het hy die Springbokke die eerste keer op die veld gelei, toe hy in die 2003 wêreldbekertoernooi in een toets teen Georgia kaptein was.
Só kan ’n mens aangaan om uit te wys waarom John Smit werklik ’n groot rugbylegende in Suid-Afrika is. Of hy egter ooit enigsins die beste haker in die land was tydens sy 70 toetse in dié posisie, is te betwyfel. Dat hy beslis nié die beste vaskopstut in die land was tydens sy 13 toetse in dié posisie nie, is ’n feit. Maar die meeste van ons het die afgelope ses jaar aanvaar dat Smit as kaptein iets besonders vir die Bokspan beteken. Hy het immers, naas Joost van der Westhuizen (80%) en Gary Teichmann (72%), die derde beste rekord as kaptein (69%) sedert ons land se hertoetrede tot die internasionale arena in 1992. En tot sy voordeel moet genoem word dat dié persentasie in dubbel soveel toetse as Teichmann en sewe keer soveel as Van der Westhuizen behaal is. Dit is natuurlik ’n feit wat die persentasies in perspektief plaas.
As John Smit se vertonings op die veld in vanjaar se Super 14 reeks én in die vyf toetse waarin hy tot dusver vanjaar gespeel het, beoordeel word, is dit sekerlik veilig om te sê dat Smit se beste dae as speler verby is. Tans kan nie Smit òf sy adjudant in die Bokspan, Chiliboy Ralepelle, deur enige nugter ontleder as ’n beter speler beskou word as manne soos Bismarck du Plessis, Gary Botha, Adriaan Strauss of Tiaan Liebenberg nie. Goed, Du Plessis en Strauss is albei tans beseer, maar Botha en Liebenberg speel op die oomblik Curriebekerrugby. Dit beteken Suid-Afrika het op die Drienasies toer gegaan met twee hakers wat in die Super 14 waarskynlik nie onder die top vyf in die land getel het nie.
Nou bly die vraag in die gemoed van menige Suid-Afrikaanse rugbyondersteuners steeds of dit wys is van die bestuur van die Springbokspan om só kort voor volgende jaar se wêreldbekertoernooi voort te ploeter met spelers wat nié op standaard is nie? Moes Botha en Liebenberg nie in vanjaar se Drienasies-groep gewees het om die Springbokke ’n regverdige kans te gee teen die honger All Blacks nie? Dieselfde geld natuurlik vir die keuses in posisies soos skrumskakel, flank en op vleuel.
Ek is bevrees dat die gebeure in die afgelope twee Saterdae se verloortoetse teen die All Blacks baie duidelik daarop dui dat ’n man soos John Smit se raktyd verby is. Ek kan aanvaar dat hy, nadat hy in 2008 in Frankryk vir groot geld gaan speel het, verlede jaar teruggekom het om die sirkel van sy rugbyloopbaan te voltooi. Hy het vooraf gesê dat hy as Springbok reeds alles bereik het wat hy kon – hy het teen byna elke rugbynasie op aarde gespeel, die o.21 wêreldkampioenskappe gewen, die Drienasiestoernooi gewen en sy span tot glorie in die wêreldbekertoernooi van 2007 gelei.
Al wat dus nog vir John Smit oorgebly het, was om in ’n reeks teen die Britse en Ierse Leeus te speel. Dáárom het hy teruggekom en dit kan vir my nog aanvaarbaar en sinvol wees.
Toe hy egter dié doelwit ook behaal het en daardie laaste merkie op sy kerfstok kon maak, moes John Smit einde verlede jaar die regte ding gedoen het – hy moes uit internasionale rugby getree het! As hy vir oulaas nog ’n miljoen of twee wou maak, kon hy weer in Europa of selfs in Japan gaan speel het. Daar kon hy op sy reputasie staatgemaak het vir ’n lekker aftreepakket.
Wat egter nou besig is om te gebeur is sleg vir Suid-Afrikaanse rugby, maar ook sleg vir John Smit se nagedagtenis as rugbylegende. Daar is ’n gesegde wat lui dat ’n mens in enige sport net so goed is soos jou laaste wedstryd. John Smit loop die gevaar om onthou te word as ’n onfikse 32-jarige voorspeler wat té lank aangehou het en sy eie, sowel as sy land se rugby-eer daardeur groot skade aangedoen het.
Back