tuis blad home page
Plakkers word ook in Centurion ’n ernstige probleem
 
Nichelle Lemmer
 
Dit blyk of onwettige plakkers Centurion se sypaadjies en oop erwe in dié voorstad beset.
Rekord het klagtes uit verskeie oorde ontvang van oor sluipslappers en plakkers wat nou in woonbuurte soos paddastoele opspring.
Ben du Plessis, inwoner van Lyttelton is bekommerd oor ’n groep mense wat in Lyttelton naby die stasie en Lyttelton sportpark bly.
“Ek het die probleem by verskeie belangegroepe soos die Tshwane metro polisie en raad gerapporteer, maar niemand wil verantwoordelikheid vir die probleem aanvaar nie.”
“Dis ’n groot kommer vir die huis van bejaardes aan die oorkant. Dit is nie net onveiling nie, maar ’n brandgevaar, onhigiënies.
“Die mense bly sonder water en enige ander fasiliteite.”
Melissa Muller van Amberfield word met dieselfde gesig elke oggend begroet.
Sy sê daar bly ’n groep van vyf tot vyftien vrouens op die sypaadjie naby haar sekuriteitskompleks.
“Hulle bly reeds daar vir ’n geruime tyd en slaap in die aand langs ’n groot muur tussen Amberfield Heights en Mall@Reds.”
Sy sê hulle het nie water of toiletgeriewe nie en slaap in die winter onder kantonbokse elke aand.
“Die vroue beweeg uit deur die dag maar kom terug in die nag.
Hulle dra sakke, plastiek bottels, komberse, bokse en ander besittings wat hulle deur die dag daar los.”
Sy sê een van die vroue is verstandelik gestremd en is al deur ’n motoriste raakgery omdat sy in die straat sit.
“Ek het die probleem by die Wierdabrug polisiestasie en die Tshwane metro polisie aangemeld, maar dit word nie opgelos nie.”
Antoinette Mostert, woordvoerder van die Tshwane metro sê klagtes van inwoners is na die metro polisie gestuur en die saak word tans ondersoek.


Back