Meer as 20 000 inskrywings word verwag vir vanjaar se Spar Vrouewedloop, wat op 28 Augustus in Centurion aangebied word. Dié wedloop het só groot geword, dat die organiseerders vanjaar ’n nuwe terrein moes soek om dit beter te kan organiseer. Die wedloop sal begin en eindig by SuperSport Park, die krieketstadion wat ook die Nashua Titans se tuisveld is. Vanjaar sal die 10km wedloop en die 5km wedloop ook op verskillende roetes gehardloop word, hoewel albei die wedlope by die krieketstadion sal begin en eindig. Op hierdie manier behoort die organiseerders die massas atlete wat deelneem baie makliker te kan hanteer. Die 10km wedloop sal vanaf SuperSport Park via John Vorster rylaan verby die Centurion Gholf Landgoed en daarna via Irene en Doornkloof weer tot by die stadion gehardloop word. Die 5km pretdraf en –stap sal ’n roete volg in ’n westelike rigting na die omgewing van Die Hoewes en dan weer terug na die stadion. Spar borg ook ’n T-hemp vir elk van die eerste 20 000 inskrywings, terwyl alle atlete wat die roete voltooi met ’n medalje en ’n geskenkpak beloon sal word. Van Suid-Afrika se bekendste vroue langasems sal weer vanjaar deel wees van hierdie wedloop. Verlede jaar se wenner, Rene Kalmer sal weer daar wees. Haar grootste opposisie sal kom van top atlete soos Poppy Mlambo, Annerien van Schalkwyk, Marelise Retief, Maxine Heine-Wacker, Irvette van Blerk, Mpho Mabuza en haar eie suster, Christene Kalmer. Deelnemers sal kan skouers skuur met verskeie bekende persoonlikhede, wat ook deel van die wedloop sal wees. Verskeie akteurs, sangers en sportpersoonlikhede gaan ook die hardloopskoene aantrek en hul deel doen.
|