tuis blad home page
Blou Bulle onder druk ná nederlaag teen Cheetahs
 
Koos Venter
 
Die Vodacom Blou Bulle se veldtog in die ABSA Curriebekerreeks is vroeg reeds onder kwaai druk geplaas toe hulle Saterdag op Loftus Versfeld onnodig teen die Cheetahs met 23-25 verloor het.
Dit was ’n klipharde wedstryd tussen dié twee aartsvyande, maar dié een moes die Bulle nooit verloor het nie.
Hulle was van die tweede minuut in die wedstryd af voor toe Jacques-Louis Potgieter sy eerste strafdoel deur die pale gejaag het.
Daarna het hulle regdeur die wedstryd voorgeloop en dit het nooit gelyk of die Vrystaters kon wen nie. Die Blou Bulle was in beheer van byna al die fasette en selfs toe die manne van Bloemfontein laat in die wedstryd verwoed begin aanval, het die Bulle se goed georganiseerde verdediging gehou.
’n Strafdoel deur die jong plaasvervanger losskakel, Sias Ebersohn, twee minute voor die eindfluitjie sou blaas het die Cheetahs nuwe moed gegee, maar dit het gelyk of die Bulle die tyd sou uitkoop, omdat hulle besit gehad het en in die Cheetahs se kwartgebied was met 90 sekondes om te gaan voor die eindfluitjie.
Toe begaan die Bulle se mees ervare speler, Jaco van der Westhuizen, ’n onbesonne amateurfout deur besit weg te skop in plaas van om terug te speel na sy voorspelers.
Die res is geskiedenis. Die Vrystaters het met ’n teenaanval in hul eie kwartgebied begin.
Ná vyf minute se beseringstyd en twee omstrede beslissings deur die ewe omstrede skeidsregter, Pro Legoete, het die Cheetahs se reserwe haker, Skipper Badenhorst, in die hoek oorgeduik. Die jong Ebersohn het senuwees van staal getoon en uit die hoekie verdoel vir die wenpunte.
Dis was die tweede week na mekaar wat Jaco van der Westhuizen uit sy diepte gelyk het en die Bulle ’n wedstryd gekos het. Daar sal dringend gekyk moet word na die heelagterposisie en of Van der Westhuizen nog goed genoeg is om op dié vlak te speel ná vier jaar se minderwaardige rugby in Japan.
Vir die Blou Bulle het Derick Kuün en Stefan Watermeyer gedruk. JL Potgieter het albei drieë verdoel en ook drie strafdoele bygevoeg.
Vir die Cheetahs het Badenhorst gedruk. Louis Strydom het vyf strafdoele behaal, terwyl Ebersohn ’n strafdoele n ’n doelskop bygevoeg het.

* Rekord het vyf stelle dubbelkaartjies om weg te gee vir die Blou Bulle se volgende tuiswedstryd in die ABSA Curriebekerreeks op 6 Augustus teen die Luiperds. SMS die woord RUGBY na 36968 om in aanmerking te kom vir dié kaartjies. Slegs een inskrywing per selfoon nommer word toegelaat en standaard SMS-tariewe is van toepassing. Die kompetisie sluit om 12:00 op Donderdag 5 Augustus. Wenners sal per telefoon ingeig word en moet bereid wees om die kaartjies hier by rekord te kom oplaai.

Back