tuis blad home page
Groot opskuddings in Carltonreeks
 
Koos Venter
 
Twee verrassings in die voorlaaste rondte van die ligabepalings in vanjaar se Carltonbekerreeks het nie net veroorsaak dat die laaste ligawedstryde uiters spannend en deurslaggewend gaan wees nie, maar dit kan ook beteken dat die Assupol Super 16 kampioene, Centurion, vanjaar die Carltonbeker halfeindrondte kan misloop.
Centurion (13 ligapunte) sal nou eerskomende naweek in die laaste ligabepalings met Tukkies (21 ligapunte) moet afreken om hul hoop op ’n plek in die halfeindrondte lewend te hou.
Tukkies is die enigste span wat redelik seker is van ’n plek in die halfeindrondte. Selfs hul eersteplek op die punteleer is redelik veilig, omdat hul punteverskil meer as 100 punte groter as dié van hul naaste teenstanders is.
Teoreties het al ses die top spanne nog ’n kans om die halfeindrondte te haal. Wat dinge nog meer interessant maak is dat ’n paar van die buiteperde se lot in hul eie hande is.
So kan Naka Bulle (11 ligapunte) nog deurdring deur met Polisie (15 ligapunte) af te reken. As Naka Bulle volpunte teen Polisie kan kry en die Bobbies van ligapunte weerhou, behoort hulle ’n goeie kans te hê om die halfeindrondte te haal.
Polisie sal op hulle beurt hoop dat nie een van TUT (16 ligapunte) of die Silver Valke (16 ligapunte) ’n bonuspunt kry nie, wat hulle teoreties ’n kans sal gee om tweede te eindig.
Centurion se stryd is egter die grootste, omdat hulle die voorlopers moet aandurf en móét wen om deur te dring.
* Tukkies is egter nie onoorwinlik nie, soos TUT die afgelope naweek gewys het. Die manne van TUT het hul eerste oorwinning in drie seisoene oor hul mede-studente behaal toe hulle met 40-35 baas was in ’n wedstryd waarin hulle vier drieë teen Tukkies se twee gedruk het.
* Die Silver Valke het verras deur die omgekrapte Bobbies met 16-15 te klop. Polisie was tot dusver in hierdie finale fase van die Carltonbekerreeks baie goed op dreef, maar die Silver Valke het ook gewys dat hulle nie meer skrik vir die groot kanonne nie.
* Die Naka Bulle het ses drieë teen Harlequins ingeryg om ook hulle hoop op ’n plek in die halfeindrondte lewend te hou.
Harlequins, wat hul ligaverpligtinge voltooi het, is die enigste span wat tot dusver in die nuwe bedeling nie regtig die mas kon opkom tussen die top spanne nie. Hulle moet egter nie afgeskryf word nie, aangesien hulle vanjaar eers begin het met die heropbou van hul strukture, wat die afgelope paar seisoene agteruit gegaan het.
Back