tuis blad home page
Bloubul legende Ruben Kruger sterf
 
Koos Venter
 
Weens sy spel as briljante losvoorspeler was hy bekend as die Silent Assassin onder sy rugbyvriende maar dit was uiteindelik die geruislose sluipmoordenaar in die vorm van ’n breingewas wat die Bloubul- en Springboklegende, Ruben Kruger, se lewe op die jeugdige ouderdom van 39 geëis het.
Kruger is Woensdagnag in die Pretoria-Oos-hospitaal dood.
Hy sou op 30 Maart 40 word.
Dit was juis dié gewas wat sy rugbyloopbaan op die ouderdom van 29 in 2000 beëindig het. Daarna het hy die afgelope tien jaar ’n langdurige stryd teen kanker gevoer en meer as een gewas moes verwyder word.
Ruben was een van die heel beste flanke wat ooit die Springbok- en Bloubultrui oor die kop getrek het.
Hy het in 36 toetse vir Suid-Afrika gespeel en was deel van die span wat die Wêreldbeker in 1995 gewen het.
Hy het in 1993 as Vrystater Springbok geword maar sedert 1994 tot aan die einde van sy loopbaan was hy ’n Bloubul.
In 1998 was hy die hele seisoen die Bloubulkaptein maar ’n besering kort voor die Curriebekereindstryd het hom beroof van die geleentheid om in ’n Curriebekerkampioenspan te speel.
Die Blou Bulle het wel daardie jaar die beker gewen en die oorwinning is later aan Ruben opgedra.
Dit is bekend dat Ruben hom nie veel aan tierlantyntjies en sy eie profiel in die media gesteur het nie en sy opvallende nederigheid het hom baie gewild onder rugbyspelers en ondersteuners gemaak.
Hy word oorleef deur sy vrou, Lize en twee dogters, Zoë (7) en Isabella (4).
Back