Dit lyk of die Blou Bulle se reserweliga vanjaar kookwaterrugby gaan oplewer. Terwyl ander klubs in dié liga vroeg vanjaar al prontuit verklaar dat hulle mik na promosie na die Carltonliga, het die Dragons ook nou aangesluit by dié optimisme. Dié klub, wat tans nog steeds die fasiliteite van die Hoërskool Overkruin as hul tuisveld gebruik, sê hul sien uit na ’n suksesvolle seisoen. Die klub het daad by die woord gevoeg en die oud Springbok flank, Klippies Kritzinger, as hoofafrigter aangestel. Groot verwagtinge word van hom gekoester en hy het ’n baie goeie rekord as afrigter. Die Dragons nooi belangstellendes wat as spelers, afrigters of op ander maniere betrokke wil raak om by hul oefeninge aan te meld. Hulle wil vanjaar drie senior en ’n junior span inskryf vir die liga. Oefeninge vind plaas op die velde van Hoërskool Overkruin op Maandae, Woensdae en Donderdae om 19:00. Vir meer besonderhede kan André Ferreira by 082 550 7244 gekontak word.
|