tuis blad home page
Varsitybeker begin nie goed vir Pretorianers
 
Koos Venter
 
Die Varsitybekertoernooi van 2010 het nie goed begin vir Pretoria se twee kandidate nie.
Op die rugbyfees by LC de Villiers in die eerste rondte van dié toernooi het die Universiteit van Johannesburg (UJ) eers vir TUT met 28-14 geklop, waarna Tukkies met 24-35 teen die Pukke van Potchefstroom die onderspit moes delf.
* TUT se wedstryd teen UJ was byna soos ’n herhaling van byna al hul wedstryde verlede seisoen. Die TUT-manne het nooit gaan lê nie, maar hulle het net nie genoeg talent en diepte om ’n uitklophou te plant nie.
TUT se grootse sonde was egter hul gebrekkige verdedigingspatroon. ’n Span wat só baie laagvatte mis, kan nie verwag om in ’n strawwe kompetisie soos die Varsitybeker wedstryde te wen nie.
Dan het TUT ook in die vaste skrums gesukkel en hulle is soms meters ver teruggedruk. Of hul twee twintigjarige stutte, Juan Pike en Braam van der Merwe die mas gaan opkom in hierdie reeks is ’n ope vraag.
Vir TUT het agtsteman Wikus Botes die seisoen begin waar hy verlede jaar opgehou het. Hy was oral by en is teen die einde beloon met ’n puik drie.
Regtervleuel Johan Swartz het ook stewig vertoon en kan vanjaar nog die drieë inryg as sy binne-agterspelers vir hom meer spasie kan skep.
As TUT nie weer deur beserings geteister word nie, kan hulle vanjaar ’n paar van die ander spanne verras.
Vir TUT het Ryno Lopes en Wikus Botes gedruk. Jacques Venter en Jaco Oosthuizen het elk ’n doelskop behaal.
Vir UJ het Aubrey MacDonald, Lola Waka, Edgar Marutlulle en Martyn Lombard gedruk. André Smith het ’n strafdoel en ’n doelskop bygevoeg terwyl Ryno Luus die ander doelskop oorgesit het.
* Die wedstryd tussen Tukkies en die Pukke was ’n baie goeie vertoonvenster van dié opwindende rugbyreeks. As in ag geneem word dat die seisoen pas begin het, is daar inderdaad kookwater rugby opgelewer.
Die reuse skare is met sewe puik drieë en opwindende hardlooprugby getrakteer.
Tukkies het teen die spoed van lig losgetrek en binne vyf minute was hul eerste sewe punte op die telbord ná ’n puik drie deur linkervleuel. Aaron Denenga.
Maar hierna het die Pukke gewys waarom hulle van die begin af een van die gunstelinge in die reeks is.
Hulle het Tukkies voor begin aanvat en veral by die afbreekpunte het die Pretorianers gesukkel. Vir die res van die eerste helfte het Pukke soos ’n goedgeoliede masjien gespeel en twee drieë gedruk.
In die tweede helfte het Tukkies wéér vinnig begin met ’n drie ná net sewe minute deur die slot Tiaan Nel. Vier minute later het hulle weer gedruk en skielik was die telling gelykop en die spanning het opgeloop.
Maar uiteindelik was dit die Pukke se beter fiksheid wat die deurslag gegee het en in die laaste tien minute kon die Tukkies net nie byhou nie.
Tukkies se dissipline was ook problematies en hulle is met twee geelkaarte daarvoor gestraf.
Daarby het hul stelskopper, Gert Smith, se korrel sleg uitgestel en hy het 12 punte met haalbare strafskoppe verbrou.
Tukkies kan egter tevrede voel met hul vertoning teen verlede jaar se finaliste.
As dié span egter eers behoorlik fiks is en mekaar begin vind, gaan hulle baie naby aan die eindstryd eindig.
Tukkies kan ook tevrede voel met hul twee aanwinste van Centurion rugbyklub. Tiaan Nel (slot) en Marius Weber (agtsteman) was twee van hul uitblinkers en dié twee manne gaan albei nog groot rugby speel.
Vir Tukkies het Aaron Denenga, Tiaan Nel, Dirk Dippenaar gedruk. Smith het al drie die drieë verdoel en een strafdoel bygevoeg.
Vir die Pukke het Andries Mahoney (3) en Wouter Watermeyer gedruk. Theuns Kotze het drie doelskoppe en drie strafdoele behaal.
Back