In die eerste twaalf dae sedert die skool geopen het, het Juanita Joubert se bus sewe keer nie opgedaag nie. Juanita, ’n matriekleerling aan Hoërskool Gerrit Maritz, bly in Pretoria-Noord. Sy is hewig ontsteld omdat haar bus soveel keer dié jaar nie opgedaag het nie. Volgens Juanita is sy nie die enigste een wat met die probleem sit nie, daar is leerlinge wat op kleinhoewes bly wat se busse ook nie opdaag nie. “Ek het een oggend skool toe gestap en dit het my meer as ’n uur geneem om by die skool te kom en het amper meer gedraf as wat ek gestap het. “Die onderwysers het geen genade nie en gee ons detensie as ons laat is. “Ek het selfs ’n rekeningkundetoets gemis as gevolg van busse wat nie opdaag nie,” sê sy. Juanita het self die busdienste gekontak om te hoor wat die probleem is. Hulle sê busdrywers staak baie en daar is ook van hulle wat nie vir werk opdaag nie en die Tshwane-metro kan niks daaraan doen nie. Die metro is genader vir kommentaar maar was nie beskikbaar teen druktyd nie. Hierdie is nie die enigste klagtes wat ontvang is nie. Daar is ook verskeie klagtes van inwoners van die Doornpoort- en Montana-omgewing van busse wat nie opdaag nie ontvang.
|