’n Grootskaalse ontevredenheid wat tot in die hof gaan draai, is verlede week ontketen om Pretoria se naamsverandering te keer. Verskeie organisasies met die slagspreuk ‘Pretoria bly Pretoria,’ staan die besluit van Lulu Xingwana, minister van kuns en kultuur, om Pretoria na Tshwane te verander, teen. Dit volg na die minister Vrydag haar bedoeling om Pretoria se naam te verander beklemtoon het deur dit in die Staatskoerant aan te kondig. Haar besluit was egter van korte duur, na sy verlede week ná die aankondiging, die registrasie van Pretoria se naam na Tshwane weer teruggetrek en van die lys verwyder het. Volgens ’n persverklaring van haar departement voer sy aan dat daar eers meer ondersoeke oor die saak gedoen moet word. Rekord het voor dié aankondiging berig oor Sputla Ramokgopa, regerende partyvoorsitter, wat op ’n mediakonferensie gesê het dié saak sal voortaan op ‘n prioriteitslys geplaas word. Daar word glo gepoog om die stad se naam voor die Wêreldbekersokkertoernooi te verander. Inwoners wat hul stem tot die stryd wil byvoeg, word aangemoedig om in die dag met hul hoofligte aan te ry. Dit is Jaco Mulder, van ’n minderheidsopposisieparty, se voorstel. AfriForum se regsverteenwoordiger, Willie Spies, sê min Xingwana se optrede spreek van blatante kwade trou. “Daar is tans ’n regsgeding oor die status van die naam van Pretoria hangende en die saak is op die rol om op 25 en 26 Maart vanjaar verhoor te word. “Die minister het met haar optrede ’n duidelike boodskap gestuur dat sy nie die sub judice-reël en die gepaardgaande grondwetlike beginsel van skeiding van magte eerbiedig nie.” ’n Aankondiging oor AfriForum se verdere regsoptrede sal binnekort gemaak word. Raadslid Jan van Zyl, waarnemende opposisiepartykoukusleier, is van mening die minister speel met vuur. Die Afrikanerbond het reeds verlede jaar tot die stryd toegetree, toe hulle in Oktober vertoë tot beide president Zuma en min Xingwane oor die kwessie van eensydige naamsveranderinge gerig het. “Ons het tot vandag toe nie ’n antwoord ontvang nie.” Die minister se adjunk, Paul Mashatile, het verlede week op die nippertjie ’n mediakonferensie waar hy nuwe plekname sou aankondig, afgestel.
|