tuis blad home page
Honde kry hul dag
 
Seugnet Esterhuyse
 
Die mees geharde misdadigers in Suid-Afrika het al voor hulle geswig.
Selfs dwelmsmouse vrees hulle en hulle word met groot sukses aangewend om na vermiste kinders te soek, grusame moordtonele te vind en hulle staar ook soms die dood in die gesig.
Hierdie is die daaglikse bestaan van die werkende polisiehonde van die Pretoriase honde-eenheid in Silverton .
As deel van die maatskappy, Glenrand M-I-B, se nasionale veldtog, Police Station Renovation, in samewerking met ’n plaaslike radiostasie, is die Pretoriase honde-eenheid genomineer om hierdie honde se goeie werk te beloon. Dié polisiehonde sal eersdaags in opgeknapte kwartiere intrek. Van die opknappingswerk sluit verfwerk, die vervanging van sommige hondehokke se dakke, installering van ’n nuwe hek om die eenheid van die blitspatrollie te skei, spreiligte en ekstra tuinslange.
Die veldtog is in Augustus 2009 van stapel gestuur om die polisie in Gauteng te ondersteun in hul taak om misdaad te beveg en strek tot Junie vanjaar. “Projekte soos hierdie bied ons die geleentheid om die mans en vroue in blou se dapperheid te beloon en ook vir hulle dankie te sê,” sê Adam Rakgalakane van Glenrand M-I-B.
Die Pretoria-honde-eenheid bestaan uit Skotse skaaphonde, boksers, Duitse- en Belgiese herdershonde, spanjoels, Rottweilers en bloedhonde. Volgens kaptein Collette Weilbach, polisiewoordvoerder, ondergaan elke hond intensiewe opleiding en word dan aan ’n hanteerder toegeken, waarna die dier as patrollie-, spoorsny-, dwelm-, plofstof-, brandopsporing-,beskermde spesies- of soek-en-reddingshonde werksaam sal wees.
Verskeie honde by hierdie eenheid het al bekendheid verwerf. Milton, ’n Duitse herdershond, was betrokke in die soektog na Sheldean Human en Leigh Matthews terwyl Boef, ook ’n herdershond, al baie misdadigers skrik op die lyf gejaag het. Emma, ’n goue spanjoel en die trots van die eenheid wat onlangs afgetree het, het al meer as 350 dwelmsmouse laat toesluit en twaalf dwelmlaboratoriums toegemaak.
Back